Hartklop Omnibus 3
Bok av Madelein Malherbe
Rykie Roux
Malene Breytenbach
Heler van skade: Lucinda O'Neill word 'n pos as pediater by die Wynland-kliniek vir Aansteeklike Siektes aangebied en dit bring 'n algehele ommekeer in haar lewe mee - en nie slegs op professionele gebied nie. Want hier ontmoet sy vir Werner Huber, 'n siviele ingenieur, wie se seun tydens 'n werkskontrak in Afrika 'n tropiese siekte opgedoen het. Wanneer hy die seuntjie na die kliniek bring, maak dit 'n groter impak op Lucinda se lewe as wat sy ooit kon voorsien het. En intussen maak die resiesjaer Edwin van Reenen, wat haar ken sedert hulle kinderdae in die weeshuis, aanspraak op haar vriendskap en liefde. Lucinda het haar nog altyd van liefdesverbintenisse weerhou; haar werk was haar erns. Maar in die Wynland-kliniek word sy verplig om keuses te maak - en meteens lyk haar pad vorentoe baie gekompliseerd. Die dokter se geheime passie: Janli Filmalter, 'n toegewyde mediese student in haar vyfde jaar, en dokter Christiaan Lombard ken mekaar al vandat sy ses en hy nege jaar oud was. Hulle ken ook mekaar se families goed - dalk te goed. Waarom haat Christiaan haar skatryk pa so? Sal hy Ge, haar losbol-broer, kan vergewe vir wat hy aan sy onskuldige kleinsus gedoen het? Maar die belangrikste: probeer Christiaan op die Filmaters wraak neem deur Janli te verlei? Ontmoet my in Patong: Laura Els is glad nie baie gelukkig in die hospitaal waar sy verpleeg nie. Miskien is dit omdat haar kerel, Braam, weg is Engeland toe. Of dalk is dit nog die nadraai van die tsoenami-gebeure. Wat ook al, Laura besluit om Engeland toe te gaan, na Braam toe. Maar voor dit wil sy eers terug Thailand toe vir 'n kort vakansie om deur die herinneringe van die tsoenami en haar tyd daar te werk. In Thailand ontmoet sy toevallig weer die Engelse sakeman, Francis, wie se lewe sy destyds gered het. Die aantrekkingskrag tussen hulle skryf Laura toe aan die feit dat sy hom destyds gered het. Natuurlik sal so iets mens nader aan mekaar bring! En sy is immers nog verlief op Braam. In Patong het die lewe egter sy eie loop . . .