Kroniek Van Donkerhoek : die verhaal van 'n plaas gedurende Apartheid en daarna

Bok av Kees Van Dijkhorst
Die end van die twintigste eeu het die einde gesien van wat breedweg genoem word die apartheidsbestel. Vir die Afrikanervolk was dit traumaties. Baie is landuit. Van die agtergeblewenes het skepties-gelate die nuwe bestel aanvaar en gewerk aan 'n nuwe verhouding met hul swart landgenote. Ander kon die verandering nie hanteer nie en het verbitterd oor die gewaande volksverraad en die nuwe onregte bly broei. Soos 'n sluimerende vulkaan.  Die foutlyne het families, vriende en rassegroepe onheelbaar verdeel. Die roman KRONIEK VAN DONKERHOEK  is die verhaal van die Vorsters en hul erfplaas oor meer as  twee dekades met die oorgang van apartheid na demokrasie. Inherent goeie mense, wie se sienings en vooroordele onvermydelik tot konflik en uiteindelike ondergang lei. Die platorand van  Mpumalanga met sy deinserige vergesigte, wuiwende grashalms, suisende denne,  bosbrande en  veediefstal is die agtergrond waarteen vals grondeise en 'n stryd om besitreg lei tot rassetwis en moord.  Die patriarg Jaap Vorster kan hom nie versoen  nie met die smaad die familie aangedoen deur sy seun Pieter, wat trou met Johanna Dlamini , dogter van die voorman.  Gelok deur 'n bosbrand word Jaap vermoor deur die voorman se seun, 'n opgeleide kader.  Pieter neem die bosbouboerdery oor en word onregverdig veroordeel vir die moord op sy vrou se ander broer. Voortvlugtig vir die gereg probeer Pieter sy vrou oortuig van sy onskuld. Knaend op die spoor bly inspekteur Khumalo wat die skandvlek van die ontsnapping wil uitwis en eers in die Applhof teenoor die voortvlugtige te staan kom. Die sittings van die Rondgaande Hof te Piet Retief en die Applhof in Bloemfontein word met fyn insig uitgebeeld en die strydende regslui met 'n tikkie humor geskets. Die aksievolle spanningsroman  het as somber agtergrondmusiek die veelkantige onoplosbare grondkwessie.